BELA-wetgewing: Wat van die Gerwel Kommisie se Aanbevelings?
Artikel oor meertaligheid, vir Die Eike Nuusbrief - Oktober 2024
Gepubliseer in Die Eike Nuusbrief - Oktober 2024
Die Suid-Afrikaanse Regering van Nasionale Eenheid (RNE) moet eerder die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys, die “BELA Wet” opsy skuif. Die klousules oor die voorgestelde veranderinge aan skole se taalbeleid moet ernstig heroorweeg word voordat dit in geïmplementeer word. As die koalisieregering nie taal versigtig hanteer nie, sal hierdie bepalings waarskynlike etniese konflik veroorsaak, en met opvlamming van emosies ook die nasiebou proses wat nou goed op dreef is, erg belemmer.
Die RNE sal na my mening hulle energie baie beter gebruik deur eerder die 2002-aanbevelings van die Gerwel Kommissie te heroorweeg. Dit is in die lewe geroep toe Kader Asmal Minister van Onderwys was in voormalige President Thabo Mbeki se kabinet. Alhoewel hierdie aanbevelings meer as twee dekades oud is, bly dit relevant en kan dit maklik aangepas word om aan die huidige behoeftes van die breë Suid-Afrikaanse samelewing te voldoen.
Indien die saak behoorlik benader word, kan Suid-Afrika die voorbeeld volg van lande soos Switserland, waar skoliere verskeie tale magtig is. So kan Suid-Afrika ’n veeltalige, en meer kultuurbewuste, samelewing bevorder. Aan die ander kant, kan die verkeerde hantering van die taalvraagstuk ernstige gevolge inhou vir die RNE. Afrikaner-organisasies, wat vanweë” verstaanbare historiese redes sterk emosionele bande met taal het, het reeds begin om druk op die Demokratiese Alliansie (DA) uit te oefen. Daarbenewens is daar ook mededingende opportuniste binne die ANC, soos Panyaza Lesufi, wat gretig is om vir sy eie persoonlike gewin die RNE te laat misluk. As daar nie 'n kompromis oor Afrikaans bereik word nie, vergroot die risiko vir die DA om uit die RNE te onttrek. Die ineenstorting van die RNE sal dan die gevolg wees. Die vooruitsig om 'n meertalige Suid-Afrika, gegrond op wedersydse samewerking, empatie en respek, te skep, kan weereens vir nog 'n generasie uitgestel word.
In 2011 was ek op die Universiteit van Pretoria (UP) se Studenteraad as die portefeuljehoof vir meertaligheid en kultuur. Daar het ek eerstehands gesien hoe Die taaldebat emosies kan laat opvlam, veral onder Afrikaanssprekendes en nie-afrikaanssprekende swart studente. As ’n poliglot of veeltalige, is ek vlot in verskeie tale en waardeer ek die belangrikheid van ‘n taaldiverse land. In ‘n post-koloniale samelewing soos Suid-Afrika behoort die regering eerder meertaligheid aan te spoor as om dit aktief met wetgewing te onderdruk.
Vandag funksioneer die voormalige afrikaanse Universiteit van Pretoria byna uitsluitlik in Engels. Die Universiteit het verengels as gevolg van twee faktore: die demografiese druk op universiteite ná die einde van Apartheid, en ‘n gebrek aan institusionele leierskap om meertaligheid te bevorder. Daar moet onder andere beklemtoon word dat die verskuiwing na Engels nie net as gevolg van die druk van die ANC-regering was nie. Dit het eerder voortgespruit uit die huiwering van die Afrikaanse universiteitsleierskap om ’n aanbod van Thabo Mbeki te aanvaar, nadat die Gerwel Kommissie sy verslag oor die status van Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika ingehandig het.
Die vertraging met die implementering van hierdie aanbevelings is ’n grondoorsaak van vandag se taalprobleem. Daarom verskil ek van mening met Professor Jonathan Jansen, wat voorgee dat daar ’n groot “ophef oor niks gemaak word nie.” Mens kan nie Suid-Afrika se taalprobleem as ‘n gedurige bron van konflik probeer wegwens nie.
Volgens my opinie moet ‘n ingeligte mening oor die taaldebat in Suid-Afrika op die volgende empiriese waarnemings oor meertaligheid en instellings gebaseer wees.
’n Onderskeid moet wel getref word tussen die huistaal, wat volgens my soms verkeerdelik as slegs ‘moedertaal’ beskryf word. Veral in meertalige huishoudings speel die taal van die ‘vader’ ‘n ewe belangrike rol. Ook die taal wat in ‘n gedeelde omgewing gebruik word, oftewel, maatjietaal. “Taalvermoe”, volgens die taalkundiges soos Steven Pinker, is instinktief en sodra ’n kind ’n sekere ouderdom bereik, word maaitjietaal meer gebruik as huistaal. Dit is waarom kinders dikwels meer geneig is om in die dialek van hul vriende te praat as dié van hul ouers. Kinders leer net soveel by hul maaitjies, as by hul ouers, nuwe tale aan.
Sodra omtrent 20 persent van ’n studenteliggaam Engels begin praat, word ‘n kantelpunt bereik, en dan word Engels die oorheersende onderrigtaal. Hierdie waarneming hou ‘n voorspelbaarheid in. Dit word reeds waargeneem by talle voormalige Afrikaanse inrigtings of organisasies. Of Afrikaans nou in parallel-medium aangebied was (soos by Stellenbosch Universiteit) of in dubbelmedium (soos by Die Universiteit van Pretoria, Die Universiteit van die Vrystaat, en voormalige Randse Afrikaanse Universiteit), het hulle almal oor die langtermyn verengels. Dieselfde waarneming is ook al by Afrikaanse skole bespeur.
Universiteitsprofessore en onderwysers verkies dikwels om in Engels klas te gee, terwyl skoliere, studente en hul ouers ander verwagtinge het. Hierdie wanverhouding veroorsaak dat daar min institusionele traagheid is wanneer die regering in taalbeleid begin ingryp. Soortgelyke verskynsels is ook algemeen aangetref by veeltalige universiteite in streke soos Quebec, Kanada, waar beide Engels en Frans aangebied word, en in Elsas, Frankryk, waar klasse in beide Duits en Frans aangebied word.
Bespreking en debat oor taal, is ewe belangrik vir die Suid-Afrikaanse nasionale identiteit, as bespreking oor ras. Gegewe hulle unieke geskiedenis oor taal, is dit veral ‘n sterk verskynsel by Afrikaners. Enige stap deur die regering wat as ’n poging beskou word om Afrikaans te marginaliseer, sal net nog meer vasberadenheid skep en kan dus moontlik ook verdeeldheid bewerkstellig. Suid-Afrika is gelukkig nie alleen in so ‘n situasie nie. Ons kan ook lesse by ander lande leer, al is dit wat om nie te doen nie. Byvoorbeeld, Oekraïne se besluit om die gebruik van Russies en Hongaars te verban in die naam van “dekolonialisering” het interne konflik in die Donbas en Transkarpatië streke aangewakker. Hierdie besluit het bygedra tot Vladimir Poetin se voorwendsel vir die Rusland-Oekraïne Oorlog en dit is ook vandag die rede waarom Viktor Orbán nie altyd goedgesind teenoor die Europese Unie is nie.
Die oorheersing van Engels in baie streke kan teruggespoor word na Britse kolonialisme. Engels is as ’n primêre taal in talle lande gevestig en het praktiese waarde gehad vir lande ná die tydperk van imperialisme. Hierdie verskynsel het versnel ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog weens Amerika se ekonomiese dominansie, en nog verder versnel na die einde van die Koue Oorlog en met die opkoms van die internet. Alhoewel ander tale soos Frans, Russies en Spaans ook gegroei het as gevolg van koloniale uitbreiding, het hulle nie dieselfde impak in wêreldhandel as Engels bereik nie. Selfs die apartheidsregering, wie se Afrikaner-elite hulself as anti-Engels gedefiniëer het, kon nie hierdie ooglopende feit ignoreer nie, d.w.s. dat Engels Suid-Afrika se voertaal is - die Lingua Franca.
Suid-Afrika, soos Oekraïne, is 'n postkoloniale samelewing. Hierdie samelewings word gekenmerk deur hibriede identiteite, tale en dialekte. As sodanig moet hierdie kwessies met groot omsigtigheid hanteer word, aangesien dit altyd die risiko inhou om nuwe konflikte uit te lok. Die Suid-Afrikaanse regering kan dit eenvoudig nie ignoreer nie; anders sal 'n politieke opportunis altyd die geleentheid misbruik en die verdeeldheid uitbuit en bevorder.
Die taalkwessie was nog altyd omstrede in Suid-Afrika se geskiedenis en het gewissel, afhangende van wie in beheer was. Byvoorbeeld, die oorsaak van die Soweto-onluste het begin omdat Afrikaans op swart skoliere afgedwing was en het gelei tot die protes van 1976. ‘n Chaotiese resultaat waartydens die apartheidsregering skoolkinders doodgeskiet het. Die tragiese voorval het sy direkte oorsprong gehad omdat daar 'n Afrikaans-gebaseerde kurrikulum afgedwing was. Toe ‘Punt’ Jansen, wat saam met Andries Treurnicht die verantwoordelike adjunk-minister van toenmalige Bantoe-onderwys was, in die parlement gevra is of hy swart studente geraadpleeg het, was sy antwoord ongeveer: ‘Nee, ek het nie, en ek gaan ook nie’. Hierdie diepgewortelde wrok en woede onder swart Suid-Afrikaners is diep in hierdie gebeurtenisse gesetel en dit kom telkens weer na die oppervlak wanneer die onderwerp van Afrikaans ter sprake kom.
Daar is egter 'n ander aspek van hierdie geskiedenis, wat selde in die Engelssprekende pers bespreek word, wanneer daar oor Afrikaans gepraat word. Meer as 100 jaar gelede, met die bekendstelling van die Milner-skole, het Groot-Brittanje 'n aktiewe poging aangewend om slegs Engelse onderrig in Suid-Afrika af te dwing. By hierdie skole is Afrikanerkinders verbied om hul moedertaal, Nederlands, te praat. As enige kind betrap is om Nederlands op die skoolgrond te praat, moes hulle gedwonge voor die klas gaan staan en met groot vernedering sê: “I am a monkey, because I spoke Dutch.”
Die aanval op Nederlands (wat later in kombuis-Hollands en nog later in Afrikaans ontwikkel het) was die sleutelkwessie wat Afrikaner-Nasionaliste gemobiliseer het voordat hulle in 1948 die mag in Suid-Afrika oorgeneem het. Hierdie ervaring van gedwonge verengelsing en vernedering het die groeiende Afrikaner-nasionalisme versterk. Die emosionele ervaring het hulle net gemotiveer om hulle eie skole te bou en hulle kinders te leer om hul taal te “waardeer en lief te hê”. Daar was 'n bewuste poging in die jare voor die Nasionale Party aan bewind gekom het, om elke onderwerp van Engels na Afrikaans te vertaal, as 'n manier om van die voormalige koloniale oorheersing te probeer ontsnap.
Terwyl hierdie geskiedenis van konflik nie vergeet moet word nie, moet Suid-Afrika ook die tekens van samewerking nie onder die mat invee nie. Byvoorbeeld, in die vroeë 1990s was daar 'n egte poging deur verskeie skole om Afrika-tale as taal in hul kurrikula in te sluit, met die verwagting dat dit uiteindelik verpligtend sou word. My laerskool het byvoorbeeld 'n wit onderwyser gewerf wie vlot in Afrikaans en Sepedi was, en ons het verskeie ure per week verpligte lesse gehad. Ongelukkig, met die Kurrikulum 2000-wysigings, is meertaligheid opsy geskuif ten gunste van Engelse onderrig. Afrikaans is slegs verdra waar “die getalle” dit regverdig het. As gevolg hiervan het Suid-Afrika 'n gulde geleentheid verbrou om ondersteunende wetgewing gedurende daardie tydperk te implementeer. Tragies is ons onderwyser, Mnr. Jordaan, wat gespesialiseer het in Geskiedenis en Sepedi, afgedank. Toe die regering die deur vir meertaligheid gesluit het, het ons nooit weer van hom gehoor nie.
In 2001 het Thabo Mbeki se regering Afrikaans geïdentifiseer as 'n potensiële bron van konflik in Suid-Afrika. Die gevolg was, die stigting van die Gerwel-kommissie, onder voorsitterskap van prof. Jakes Gerwel, 'n prominente anti-apartheid aktivis wie hoofsaaklik in Afrikaans geskryf het. Die historikus, prof. Herman Giliomee, het geskryf dat Gerwel verskeie aanbevelings aan die Suid-Afrikaanse regering gemaak het.
“Die kommissie het aanbeveel dat Afrikaans as 'n medium van onderrig op 'n minimum van twee tersiêre instellings gewaarborg moet word. Dit het 'n statutêre verpligting vir hierdie instellings voorgestel om Afrikaans 'stelselsgewys' en gefokus vir wetenskaplike navorsing en openbare kommunikasie te bevorder, met jaarlikse verslae aan die parlement. Ongelukkig het die Afrikaanse vise-kanseliers baie traag op die aanbevelings gereageer en nie hierdie geleentheid aangegryp nie.”
Vir historiese akkuraatheid is dit belangrik om te beklemtoon dat President Mbeki bereid was om verskeie van hierdie aanbevole hervormings te implementeer, maar die Afrikaanse rektore kon nie ooreenkom oor watter twee universiteite—een in die noorde en een in die suide—Afrikaans-medium instellings moes bly nie. Thabo Mbeki se gevoelens was ook gedeel deur sy voorganger, President Nelson Mandela, wat ook die behoud van 'n Afrikaanse universiteit ondersteun het. Mandela het gevoel dat daar onder die 20 universiteite, minstens een moet wees wat aan die ontwikkeling van Afrikaans toegewy moes word.
Nietemin, ten spyte van hierdie aanbevelings, bly min openbare Afrikaanse universiteite vandag oor, met Potchefstroom Universiteit as een van die noemenswaardige uitsonderings wat nog ‘n paar kursusse in Afrikaans aanbied. Afrikaner-organisasies soos Afriforum beroep hulle self dikwels op die beloftes van die Gerwel-kommissie, en druk 'n verbitterde gevoel uit oor die gebrek aan implementering—veral aangesien beide Mandela en Mbeki die aanbevelings ondersteun het.
Die BELA-wetsontwerp wat tans in die parlement (voorwaardelik) aanvaar is, slaag nie daaraan om die historiese konteks van die taalvraagstuk in Suid-Afrika aan te spreek nie en kan daarom tot hernude konflik lei. In plaas daarvan, moet die fokus eerder verskuif word om ook die aanbevelings van die Gerwel-kommissie in te sluit. Daarvolgens moes die Suid-Afrikaanse regering wetgewing inwerking stel wat meertaligheid bevorder, wat sou vereis dat universiteite en skole aan die parlementêre portefeuljekomitee moet verslag doen om hul taalbeleid te regverdig. Die vestiging van statutêre vereistes is noodsaaklik vir effektiewe afdwinging van ‘n regverdige taalbeleid.
Ek sou persoonlik verder gaan en voorstel dat die wetgewing voorsien dat streke verteenwoordig word en dat plaaslike- en provinsiale regerings aangespoor word om ook tot hierdie pogings by te dra. Daar kan dan ten minste drie tale, gebaseer op hul demografiese verspreiding, bevorder word. Met vooruitgang in kunsmatige intelligensie (KI) en moderne rekenaar linguistiek geld die verskoning van die “hoë koste van vertaling” nie meer nie.
Verder moet Suid-Afrika dit regtig oorweeg om sy nege ander inheemse Suider-Afrikaanse tale in die drie taalfamilies—Nguni, Sotho en Venda—te konsolideer en om 'n gestandaardiseerde skryftaal te bevorder. In samewerking met ons buurlande waar hierdie tale gepraat word, sal dit help om streeksstabiliteit en samewerking te bevorder. Linguistiese definisies moet breed genoeg wees om die marginalisering van plaaslike dialekte en variasies te voorkom.
As Afrikaanse skole nie meer hulle getalle kan regverdig nie, moet hulle dan eerder aangemoedig word om eers 'n Afrikataal saam met Afrikaans te leer, in plaas daarvan om direk oor te skakel na Engels. Aangesien die Afrikatale nie die wêreldwye reikwydte van Engels het nie, sal hulle dan minder bedreigend en meer aanvullend vir Afrikaans word. Hierdie benadering sou die misverstand, dat die gehegtheid aan Afrikaans op rassisme of nostalgie vir 'die goeie ou dae' gebaseer is, uit die weg ruim, en verseker dat swart studente—wie Afrikaans as ‘n versperring tot onderwys beskou—ingesluit en aangemoedig word om aan die oplossing deel te neem. 'n Maatijietaal waar kinders van verskillende etniese groepe saam speel, sal meertaligheid bevorder, terwyl hulle hul terselfdertyd onderrig in hulle huistaal kan kry. Na 'n generasie of twee, sal hulle minstens in drie tale vlot wees.
Laastens, in ooreenstemming met die aanbevelings van die Gerwel-kommissie, moet die voormalige Engels-medium skole ook aangemoedig word om weg te doen met eentalige onderrig. Soos met Afrikaanse skole, moet hulle ook hul historiese rol, plig en verantwoordelikheid in die bevordering van meertaligheid in Suid-Afrika vervul. Hulle is onder geen bedreiging nie, want Engels sal sonder twyfel sy status as Suid-Afrika se Lingua Franca, en toegang tot die wyer wêreld, behou.
Deur eerder nugter, gebalanseerd wetgewing te implementeer en te streef na 'n redelike kompromie binne die huidige RNE, is dit haalbaar om ‘n meertalige generasie te skep wat binne 'n dekade in enige van hul voorkeur-tale kan kommunikeer.
Die Suid-Afrikaanse regering het dus 'n unieke geleentheid om op ‘n konstruktiewe wyse by die taaldebat betrokke te raak, mits hulle bereid is om dit eers as die bron van konflik te erken wat die geskiedenis daarvan gemaak het. Bowenal is empatiese leierskap met strategiese insig broodnodig sodat emosies beheersd, en die regte doelwitte geformuleer en prakties behaal kan word.