In sy toespraak aan die Universiteit van Witwatersrand se Besigheidskool op 17 Augustus 2023, het Die Minister van Minerale Hulpbronne en Energie, Gwede Mantashe, herbevestig dat Kernenergie deel sal wees van Suid-Afrika se Gemengde Energiestrategie.
Sy opmerkings kom ooreen met die 2019 Geïntegreerde Hulpbronplan wat 'n bykomende 2.5 Gigawatt (GW) kernkrag spesifiseer "teen 'n pas en skaal wat die land kan bekostig, omdat dit dan ‘n opsie sou word wat geen omdraai strategie sal kan duld nie”
‘n 2.5GW nuwe kernkragkapasiteit behoort ideaal gesproke verdeel te word tussen 'n tradisionele waterverkoelde-reaktor en klein-modulêre-reaktors - soos hulle binne die volgende dekade beskikbaar sal word.
‘n Waterverkoelde reaktor behoort nie groter as 2GW (2 fases van beurtkrag) te wees nie.
’n Nuwe kernkragstasie sal ideaal wees om bekostigbare basislading-elektrisiteit en varswater (d.m.v. seawaterontsouting) aan Suid-Afrika se kusstede te kan verskaf. Twee terreine is reeds jare terug vir konstruksie geïdentifiseer, Thyspunt in die Oos-Kaap en Duynefontein in die Wes-Kaap. Albei liggings is ideaal vir 'n kernkragsentrale, aangesien die netwerkintegrasie-, varswaterverbruikers- en logistiekkoste minimaal sal wees.
Die proses begin wanneer die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika deur Die Minister van Energie en Mineraalsake opdrag gegee word om 'n versoek vir voorstelle uitstuur, sodat ‘n optimale verkoper geïdentifiseer kan word.
Daar is net 5 lande (Frankryk, Amerika, Suid-Korea, Rusland en Sjina) wat in die uitvoermark kan kompeteer en die verkoperkeuse sal Suid-Afrika vereis om 'n balans te vind tussen die ekonomiese, geopolitieke en interne politieke oorwegings.
In 2019 het die Britse regering en die Energy Technologies Institute 'n verslag vrygestel met die titel The Cost Drivers of Nuclear Power wat as leiding kan dien vir die minister om ‘n besluit te maak, en ook om die Suid-Afrikaanse publiek in te lig oor die werklike pryse van kernkrag.
Hieronder is my raad oor die kriteria wat in Suid-Afrika se besluitnemingsraamwerk ingebou behoort te world. Die lys kan dien as riglyne vir ‘n behoorlike keuse, en hulle sal teen mekaar oorweeg moet word, omdat nie al die 5 lande aan al die vereistes gelyktydig sal kan voldoen nie.
• Bekostigbaarheid: Wat gaan die koste van die nuwe stasie aan Suid-Afrika se fiskus in netto huidige waarde doen en stem Die Minister van Finansies saam dat ons dit kan bekostig?
• Verkoperfinansiering: Is die finansiering van die kragstasie regverdig verdeel tussen die verkoper en gasheerland? (Gewoonlik bring die verkoper 85% van die kapitaal).
• Risiko: Indien die konstruksie kostes oorskrei word, sal die verkoperland of die Suid Afrikaanse fiskus die konstruksierisiko dek? Hierdie is ‘n baie belangrike onderhandelingspunt.
• Vaardighede: Kom die projek met 'n strategie om die talle Suid-Afrikaners met skaars vaardighede terug huis toe te lok soos diegene wie o.a. betrokke was by die Barakah-kernkragaanleg, El Dabaa, Hinkley Point C, ITER of met Kleinreaktorprojekte soos X -Energy, Kairos of Seaborg?
• Ontsouting: Is daar voorsiening vir die ontsouting van seewater (soos die geval is met Koeberg) met die doel om ons binnelandse riviere te herstel? Die rede hiervoor is dat Suid Afrika se water vir industriële doeleindes reeds in 2008 opgedroog het? ('n 2GW kernkragsentrale het 4GW se verwerpte termiese energie wat vir hierdie doel gebruik kan word).
• Ontwikkeling: Sal die Wes- of Oos-Kaap die meeste baat by die belegging in terme van ontwikkeling?
• Intellektuele Ondersteuning: Is daar 'n universiteit naby geleë met 'n fisika- of ingenieursfakulteit en tradisie wat nie teen kernenergie vyandiggesind is nie?
• Diplomasie: Is die verkoper betrokke met huidige geopolitieke konflikte wat Suid-Afrika se diplomatieke en handelsooreenkoms doelwitte kan belemmer en is die Departement van Buitelandsesake genader om met die onderhandeling te help?
• Kernwapens: Het die verkoperland stappe geneem om die verspreiding van kernwapens uit te fasseer en om internasionale regte te respekteer en te bevorder o.a. die kernwapens nie-verspreidingsverdrag waaronder Suid-Afrika vrywillig ons kernwapens opgegee het?
• Verdrag van Pelindaba: Ondermyn die verkoper Afrika se ambisie om 'n Kernwapenvrye Sone op die vasteland te implementeer deur kernwapens in 'n ander Afrikaland te plaas en die reg op terugkeer van sy inheemse bevolking te voorkom?
• Ontwerpvolwassenheid: Is die Kernkragstasie wat aangekoop gaan word gebaseer op 'n goedgekeurde gedetailleerde ontwerp en is dit elders deur 'n reguleerder gelisensieer?
• Onlangse ondervinding: Bou die verkoper tans 'n nuwe kernkragstasie of het hulle onlangs 'n projek voltooi?
• Baanrekord: Het die verkoper 'n soortgelyke kernprojek redelik betyds en volgens sy oorspronklike begroting voltooi in die laaste paar jaar?
• Binnelandse mark: Het die verkoper verskeie aanlegte van dieselfde tipe kragstasie in sy eie plaaslike markte reeds gebou in geval spaaronderdele benodig word?
• Uitvoermark: Het die verkoper ondervinding met 'n uitvoermark en verkieslik een wat oor die oseane strek?
• Intellektuele Eiendom: Het die verkoper volledige beheer oor alle Intellektuele eiendom wat in die Kernkragstasie gebruik word, sodat enige politieke en diplomatieke konflikte van dié staanspoor vermy word?
• NRO: Is daar 'n wetlike en nasionale veiligheidstrategie in plek om die NRO-industriële kompleks te beveg sodat hulle nie doelbewus die projek kan vertraag nie?
Die Minister van Energie moet gerus voortgaan met die besluit om voorstelle in te win, want daar is reeds groot openbare steun vir 'n nuwe kernkragstasie in Suid-Afrika.
Die ondersteuners van alle groot politieke partye sal so ‘n konstruksie projek ondersteun, soos Dr. Frans Cronje van die Sosiale Navorsingstigting se peiling onlangs bevestig het.
Die Suid Afrikaanse regering moet gerus voortgaan met dié inisiatief, maar a.s.b. alleenlik op die voorwaarde dat dit reg beplan word en deur bekwame mense bestuur word. ’n Nuwe waterverkoelde reaktor is ‘n sleuteltegnologie, wat vir 40 na 60 jaar goedkoop elekstrisiteit en varswater aan ons kustede sal verskyf, en soos die Geïntegreerde Hulpbronplan tereg sê, is dit ‘n opsie met geen omdraai strategie nie”.
Suid-Afrika sal nie daaroor spyt wees nie.
Die ander uitdaging is dat SA die verskeie verskaffers sal moet oortuig dat SA ernstig is. SA het reeds verskeie stapels van al die vorige aanbiedinge wat die verskaffers baie tyd verspilling het.