Daar is twee maniere om goed geld te maak, praat mense bang of gee hulle ‘n illusie van plesier. Die Katolieke Kerk het vir jare lank die strategie uitgebuit deur vir gemeenskappe te preek dat hulle hel toe sal gaan as hulle nie vir hulle sondes betaal om in die hemel in te kom nie. Ongelukkig was hulle nie alleen gewees nie. Ander groepe het ook die vrees en paradys paradigma gebruik om hulle eie doelwitte te probeer bereik.
Regerings en aktivistiese bewegings oor die wêreld heen, het vir jare lank gewaarsku dat tale, kulture, die planeet, rasse en selfs die mensdom sou uitsterf, indien ons nie vir hulle geld en/of stemme gee nie. Dan is daar die ekstreme gevalle van die kommunisties - en fascistiese bewegings. Karl Marx het ‘n werkersparadys verkoop wat as goeie propaganda gedien het toe Lenin en later Stalin aan die mag gekom het. En Adolf Hitler het ‘n finale oplossing vir die Duitseryk verkondig, maar in die proses het omtrent 15 miljoen soldate hulle lewens op die slagvelde verloor, en byna ses miljoen Jode het in die konsentrasie kampe gesterf. Toe dit by die implementering van hemel op aarde kom, het dit meer soos hel op aarde gelyk.
En kyk vandag na Julius Malema en die ANC, hulle verkiesingsveldtogte kom daarop neer om vrees in die mense in te praat terwyl hulle ‘n alternatiewe paradys verkoop. Apartheid sal terug kom, indien die ANC nie herverkies sou word nie. Swart Suid-Afrikaners word belowe dat hulle lewenskwaliteit sal styg as die myne genasionaliseer word. Nog meer swart ekonomiese bemagtiging wette moet in werking gestel word om gelykheid te bereik en natuurlik kan historiese ongelykheid reggestel word as ons net die boere se grond onteien. Hierdie is niks meer as ‘n visie van ‘n onbereikbare Transformasieparadys, met doemprofete wie nie bereid is om hulle dogmatiese aannames te bevraagteken nie.
By ons universiteitskampusse het daar ook ‘n nuwe ideologie onlangs vlam gevat onder die “woke” beweging, wat die wêreld net wil sien deur een lens - “sistemiese diskriminasie'“. En in die internasionale politiek is daar ook ‘n paradys verskynsel in die groenbeweging wie ‘n fanatiese geloof het dat die mensdom sondig is vir elke natuurramp of uitsonderlike weerpatroon. Die ideologie sit agter die VN en Club of Rome se Sustainable Development visie.
En dan is daar programme soos die “Great Reset” en die Amerikanse Demoratiese Party se verkiesingsmanifesto, wat die twee ideologie in een kombineer. Volgens die hierdie visie van volhoubaarheid moet maatskapye verplig word om ‘n ESG teiken na te streef terwyl die werknemers klasse sal neem om bewus te word van hulle “rassistiese eensydigheid”. Die dogma stel voor dat elke transaksie en elke menslike interaksie net deur twee lense gesien moet word, klimaatverandering en diskriminasie. Die skeptici word afgekraak as klimaatontkenners en rassiste ten spyte of hulle argumente gegrond is in rasionele denke, feite en bestaande wetenskap.
Dit is vandag se gelykheid aan die sekulêre inkwisisie en doemprofete.
Aan die een kant veronderstel hulle dat hulle die kennis het om om die wêreld se ekonomie na ‘n groener Tuin van Eden toe te vat, want die vryemarksisteem is nie instaat om dit self te doen nie. En aan die ander kant preek hulle dat die middelman op straat, wie die koste daarvan moet dra, se grootste uitdaging is om bewus te word dat hy eintlik ‘n rassis is. In die geval van Suid-Afrika moet die plaaslike bevolking gedurig terugbetaal word vir die sondes van Apartheid en al die gebeure sedert Jan van Riebeeck of Cecil John Rhodes.
Die hel van rassistiese ongelykheid en aardsverwarming van gister word gebruik om die môre land van gelyke en volhboure melk en heuning aan die einde te verkoop. Die taktiek is sou oud soos die mensdom.
Tyd het gekom dat ons opstaan teen ons nuwe doemprofete, fariseërs en sogenaamde skrifgeleerdes.